News Article


Leerders kry nuwe hulpbron vir Wiskunde in moedertaal

access_time Posted on Mon, Jul 23, 2012 2:18 PM


Hierdie artikel het in Die Burger van 16 Julie 2012 oor YouCanDoMaths verskyn:

KAAPSTAD. – Die gebrek aan moedertaalondderig in die Suid-Afrikaanse onderrigstelsel – selfs in wiskunde– is 'n “ramp”.

Só het prof. Wannie Carstens, voorsitter van die Suid-Afrikaanse akademie vir wetenskap en kuns, by navraag gesê.

Hy het gereageer nadat 'n nuwe Afrikaanse aanlyn wiskunde-webwerf – die enigste van sy soort – pas bekendgestel is.

“Enigiets wat jy lees moet eers geïnternaliseer word voordat jy dit kan konseptualiseer. As jy dit nie in jou moedertaal lees nie, is dit net soveel moeiliker.”

Die webwerf, YouCanDoMaths, is nou in Engels en Afrikaans beskikbaar en kos (vanaf) R100 per maand.

Volgens Carstens is wiskunde 'n vak wat ingeoefen moet word en verwelkom hy enige hulpmiddel wat leerders in staat stel om dié vaardighede in te oefen.

Luidens 'n verklaring van YouCanDoMaths, het 'n onlangse studie deur Unisa die drie grootste struikelblokke geïdentifiseer wat leerders verhoed om bykomende hulp in wiskunde te bekom.

Dit sluit in die hoë koste vir ekstra wiskundeklasse, leerders se besige skedules, asook die probleem met vervoer na lesse.

Die webtuiste is plaaslik vervaardig deur onderwysers met ervaring in e-onderrig en bied lesse vir gr. 10, 11 en 12 leerders aan.– Marelize Potgieter

- Die Burger